|
Portfolio: labirinte
Labirinte word nou gewild dwarsdeur die wêreld, en word deesdae in privaat tuine gebruik om mense te help mediteer en ontspan. Hulle word al vir eeue as 'n geestelike werktuig gebruik.
Daar is nie 'n korrekte manier om die labirint te loop nie. Daar is een pad in en uit en daar is geen besluite om te neem nie, behalwe om in te gaan en te loop. Die labirint is plat op die grond, sonder mure of vals draaie om ons te verwar.
Dit word beskou as 'n metafoor van die lewensreis. Dit bied lesse aan soos wat ons die pad loop. Dit kan 'n spieël aanbied sodat ons kan oorweeg waar ons op ons lewenspad is. Om die labirint te loop kan ons help om uitdagings te hanteer, insig te kry, besluite te neem en om vrede te vind.
Water om hande te was word by die ingang aangebied, en jy word genooi om na die middelpunt te gaan (om skoene uit te trek is jou keuse), waar jy kan sit en nadink.
Die labirint-loop is 'n drieledige reis.
Die loop in die labirint is 'n tyd van voorbereiding. Terwyl jy inloop, neem jouself waar: watter gedagtes kom op, watter herinneringe, en dink aan hierdie tye – die maklike, moeilike, die vreugdevolle en droewige. Bekyk eenvoudig elke gedagte en laat dit gaan.
Die middelpunt van die labirint verteenwoordig ontvanklikheid en helderheid. Dit is hier waar jy 'n seënvloed van God sal ontvang. Jy mag so lank jy wil in die middelpunt vertoef, wat beteken om in die hart van God te wees.
Die loop uit staan vir eenheid met God en laat tyd toe om kragte te versamel en bereid te word om die buitewêreld te hanteer, wetende dat jy na die middelpunt mag terugkeer net wanneer jy wil.
Dikwels omring met laventel en ander kalmerende kruie, kan 'n labirint van enige grootte in meeste tuin-ontwerpe ingesluit word. |